<![CDATA[
|
Krugerdag
Oliveira de Azeméis, Portugal |
Oliveira de Azeméis, Portugal
So met die stap vandag dink ek weer aan gisteraand. DIe “toeval” van ‘n fisio reg in die hoofstraat. Meer daaroor later. So met die insleep/sukkel/wroeg/vloek in die dorp in (weereens is die bleddie dorp op die hoogste bult in die distrik gebou) kan enige mens op my gesig sien “los uit”. Tien tree in die hoofstraat af en ‘n man met ‘n ou, blonde Labrador stap reg op my af en vra “German?”. Ek vererg my inniglik – wat op aarde sou hom na my laat kyk en dink ek is Duits? Blond? Blou oë? Verwaand? (Tong in die kies). Steeds met ‘n bedonnerde uitdrukking së ek “nee” en wil net verder stap toe hy baie innemend verneem na my herkoms, en voor ek my kom kry gesels hy. Ek luister, so moeg dat daar nie genoeg spoeg in my mond is om ‘n woord te vorm nie. Hy is Duits/Pools, het die Caminho ses jaar gelede gedoen en hier vasgehaak (in die stadium weet ek nog nie eers waar “hier” is nie), en sedertdien woon en werk hy hier en is baie gelukkig. En al wat deur my kop gaan is “jirre meneer ek gaan omval as jy nie nou ophou nie”. Hy sien seker die uitdrukking op my gesig en wys na die hotel. Die groot een agter my – wat ‘n spesiale aanbod vir pelgrims het. Ek draai in my spore om (het vroeg al besluit vanaand is dit ek en ‘n hotel) en wuif vriendelik dog ferm dankie.
Twee ure later toe ek die strate tref op soek na sterk drank, wie sal ek raakloop? Meneer. Soos my ouma sou se “is hy nou nie eintlik ‘n oil painting nie” maar het te vertel dat hy elke dag hier stap met die ou kranklike hond “to pick up the Portuguese girls”. Wel ek dog ek val om – die hond wat moet chicks optel is kranklik, mank, oud en het ‘n moerse vetklier op sy rug. Hy wankel van paal tot paal en pie drie druppels. Wragtag die enigste girls wat hulle twee gaan optel is seker die SPCA. Maar ja, laat die hoop nie beskaam nie. Ek ontsnap, en sien die fisio. Dis na sewe, maar siende dat mense hier mos smiddae siesta werk hulle saans laat. Ek gaan in, maar die boek is vol geskryf. Die baie vriendelike dame wat nie een woord engels praat nie wys “WAG” – en kom met ‘n man uit ‘n ander vertrek. Hulle kyk na die boek, kyk na my. Ek gebruik my beste gebaretaal met die nodige geluide om te wys in hoeveel ondraaglike pyn ek verkeer. Die boek bly vol, maak hy my attent. Met nog pynvolle uitdrukkings en maak asof ek binne oomblikke gaan omval, wys hy dié keer: “WAG”. Sy wys dat hy gaan bel en kyk of hy iets kan skuif in die boek. (Dis hulle dagboek met die bespreking, en sowaar, die boek is vol geskryf om die uur. G’n wonder nie, dis oor hulle so bo-op die berg bly. Geen mens se rug of knieë kan dit hou nie). Hier kom hy terug, swaarmoedige uitdrukking op die gesig, nee niemand kan geskuif word nie lei ek af. Hy dink diep, kou aan die pen, en wys toe dat ek 20h15 kan hom. Dit het gewerk. Ek moet meer Charades speel…
20h10 klok ek in. Die kamertjie is klein, en altwee is daar vir die ontvangs. Klere uit – onderbroek aan. Lê. Nou kom die verduidelik. Ons besluit op Google Translate met haar foon, waarvan se skerm in duisend stukkies is. Ek sidder. So tik ek in om vir hulle te sê dat my heup baie seer is, maar ek dink dit is my “glut” spier. Die oomblik toe ek die foon oorhandig gaan staan my hart amper. Ons almal ken Google Translate – wat as ek nou net vir hulle getik het “my sphincter is seer”? Hoe sal ek weet wat Google met my frase maak? Genadiglik is daar geen geskokte reaksie nie en word ek nie summier uit die plek gejaag nie. Ek lê. Daar is nie ‘n gat in die bed waar mens se kop kan deur nie, so ek lê soos ‘n rofstoeier wat platgedruk word deur sy opponent, genadiglik is die een neusgat wat in die lug is oop, en kan ek asem haal. Natuurlik kry ek binne minute ‘n kramp in my nek en moet ek omdraai. Aangesien hulle ook altwee met ‘n verkouetjie sukkel en gedurig snuif moet ek maar die ander neusgat skoonmaak met ‘n diep agteruit teug. Dit werk. Ek kry asem. En soveel as wat ek my bedenkinge oor die opset het, werk die twee besonder hard aan my seer, stukkende lyf. Met olies en goed wat eers warm dan koud is en wie weet wat nog alles. Ek draai maar so van die een neusgat na die ander.
Dan kom die omdraai. Die mannetjie vou ‘n handdoek en sit dit om my kop, agter my nek, en begin trek. Ek sien al hoe glip die handdoek uit en val hy hom des moers teen die agterste muur, so ek trek terug en hou my nek krom. Die probleem is dat in die proses hy my oor verkeerd om gevou het. So elke keer as hy met mening trek is ek oortuig hy gaan my oor afskeur en gaan ek vir die res van die stap soos Van Gogh met ‘n verband om een helfte van my kop moet loop. Ek sien al hoe moet ek dit in my eerste ACVV Beheerraadsvergadering verduidelik. So trek en pluk en vryf en smeer en knie hulle. Die kwyl loop ‘n groot nat kol op die bed. Ek is te in vervoering om om te gee. Toe ek daar uitstap voel ek soos ‘n bloedjong man. Hup in die stap, reg vir die volgende paar honderd kilometer. Nou moet ek gaan kos soek.
Ek loop met voorbedagte rade ‘n ander pad vir net ingeval die Labrador en sy baas nog steeds op straat is. “Mark my words”. Dié keer het hy nog ‘n Portuguese chickopteller by hom. ‘n Basset, so oud soos Metusaleg, die ore het al eelte op van jare se sleep op die grond, die oë bloedbelope en die maag swaaiend van links na regs. En hulle peil op my af – nuwe beste vriende. My moed sak in my skoene. Ek verduidelik vinnig ek moet gaan eet, hy weet natuurlik waar en sal my gaan wys. Ek is reg om op my eie, salig rustig en stil die wêreld te sit en bewonder, en het wragtag nie lus vir enige geselskap nie. Maar nee, hier gaat ons. (My vriendin Retseh het altyd gese “jy weet Rayne, die Here hardloop nie uit my planne uit om my te fnuik nie. Mens sou dink Hy het wêreld oorloë om Homself mee besig te hou, maar nee. Hy sien kans vir plannetjies uitdink vir my”. Dan lag ons ons gatte af. Sy wou hê dat op haar graf moet staan “finaal gefnuik”, maar haar kinders het daarteen besluit.) Gelukkig vir my loop meneer ander vriende raak en los my in vrede, maar nie sonder aanbeveling dat ek die een of ander plaaslike spesialiteit moet eet nie.
(Franchesinhas). Ek laat my nie tweekeer nooi nie, en kry ‘n sopbord met wat lyk soos tamatiesop, met ‘n doubledeckerdagwood wat binne in sit. En natuurlik die tradisionele bord chips. (Hulle chips is heerlik!). Die sous is (glo dit as jy wil) een of ander seekosrige sous, alhoewel ek dink daar is net anchovy in die basis. Dit is heerlik, veral as mens die chips in die sous week en dan eet. Die broodjie het op: ham, kaas, steak, polonie, weense worsie, hoender, mushrooms, en bacon. Sowaar die vader, al daai! Met ‘n paar glase wyn saam is dit ‘n fees. Daar is honderde jongmense op straat wat vreeslik raas en skree en tekere gaan, ek is dankbaar vir “double glazing” toe ek my hoteldeur toemaak. En meer dankbaar dat ek nie weer die man met die honde moes konfronteer nie.
Ek slaap vir 10 ure vas, en skrik letterlik tien voor tien wakker! In ‘n dwaal jaag ek af eetkamer toe om nie die ontbyt te mis nie. Wat regtig vreemd is is dat ek glad nie honger voel terwyl ek stap nie, maar sit kos voor my neer en ek vergryp my. So vreet ek ‘n pad deur die hotel ontbytbuffet soos ‘n swerm sprinkane nie ‘n groenteland kan verwoes nie. Ek stop in: bacon, wors, brood, kaas, marmelade, ham, spanspek, koffie na koffie (het mos nou die regte frase op my foon om sterk, warm koffie te bestel). En pastel nata. Weer daardie kleintjies wat so heel in ‘n mens se mond inpas. Vir die eerste keer is daar “vars” lemoensap (daar is lemoenselletjies in) en ek drink soos iemand wat ‘n erge na-dors het. Inteendeel, ek eet myself so moeg dat ek eers weer bietjie op die bed moet gaan lê om te herstel. Gelukkig is “check-out” eers 12h00. Teen die tyd dat ek my kop by die deur uitsteek (die wonderlike ding is dat as mens so lank geslaap het is jou sokkies droog) sien ek dit reën. Daar is ernstige interne konflik of ek moet loop en of ek nog ‘n dag moet bly. Die hotel is effens duur, en ek besluit om in die pad te val. Ek het mos “rain gear”. Gelukkig trek die reën voor my uit, en laat net ‘n salige
koel luggie. Wetende dat ek net 10km het, is die stap salig. Voor ek my kom kry is ek in Sao Joao de Almeida. Sonder enige hulp van die eenvoudige Brierly, dankie. Ek sien die Solario, maar dink dit is ‘n sonbed studio, tot ek besef dit is ‘n Albergue. Ja hulle het ‘n kamer, met die hulp van ‘n jong student wat baie goed engels praat en droom om Amerika toe te gaan. “Because people are so open in America”. Ek dog ja my kind, ek het nuus vir jou. Gaan maar. Sien vir jouself.
My kamer is regtig weereens soos iets uit ‘n fliek – daardie roadside motels waar Thelma en Louise hulleself bevind. Die bad het plek of vir my bolyf of vir my onderlyf, mens moet beurte maak. Die venster maak oop op ‘n sentrale skag. Maar dis skoon, dis ‘n dubbelbed en daar is ontbyt ingesluit. Juig al wat leef. Na ‘n lang, warm bad waar ek beurte maak om of my bene of my rug onder water te hou, durf ek die dorp aan. Dit is grafstil. Daar is ‘n paar ouer mense in die kaffees wat koffie drink, vir die res nie ‘n siel op straat nie. Ek soek ‘n plek met kos. Niks. Kry later iets, maar hulle begin eers 19h00 kos bedien. Wel, dan moet ek maar drink – en daar is Sangria.
]]>