Afrikaans, soetste taal…

Die dae raak min, besef ek eers nadat ek een moerse sak groceries gaan koop by die Spar op die hoek. Want ek het laasnag vreemde drome gehad wat my laat wonder het of ek dalk skeurbuik het. Want daar was nog nie ‘n groentetjie van ‘n dag oud oor my lippe vandat ek hier aangekom het nie. Hoe kan mens dan groente eet as daar koeke en terte en soetgoed om elke hoek en draai vir jou roep soos Loerelaai….kom! Kom eet my! Daai heks van Hansie en Grietjie sou lekker met haar een tand vir my gelag het toe sy naderwink met haar mooi koekiehuis. (Dit klink nou nie so lekker nie maar kom ons beweeg aan.)

Sowat van soetgoed in kuns omskep kan mens nie oorvertel nie. Jy hoef na geen museum of kunsgalery hier in Wene te gaan nie. Glip net by die eerste koffiewinkel in en ‘n uitstalling oorval jou. Dit is pikant, blinkglad met lae kleure en teksture van fluweel tot sy, brokaat en hier en daar ‘n ou stukkie koordfluweel. Opgetooi, opgesmuk met die fynste versierings wat mens nie kan dink jy moet opeet nie. En asof dit nie oordadig genoeg is nie, ‘n blerts vars room of geel vla wat jy voor jou siel weet nie Moirs is nie… So word ek elke oggend wakker, klap my foon nader en kyk watter koffiewinkel het ek nog nie besoek nie. Sestien stoppe op die tram sit my nie af nie. Ek het al die tyd in die wêreld. Ek hou my vreeslik grênd want ek het mos nou al die mense dopgehou. Jy wag net binne die deur, smile baie groot vir die kwaai oom (dis meestal ooms) en vra op jou mooiste hogere Duits of hy dalk, miskien, indien moontlik iewers ‘n ou plekke vir een persoon het. Gewoonlik is dit net ‘n kopknik wat jou wink in die rigting van die kleinste tafeltjies was styf teen mekaar ingepak is. Jy hang jou jas op (jirre jelp jou as jy hom oor die stoel drapeer) saam met jou keps en serp, en skuif dan baie versigtig in jou plekkie in.

Duidelik is dié koffiewinkels nie gemaak vir mense met groot boude nie, want dis ‘n mooi mik en stadig skuur of die tafel langsaan se tafeldoek is om jou enkels gevou met alles wat daarop gedek was. Teen dié is my senuwees op en wonder ek hoekom ek dit enigsins probeer het om mee te begin. Maar hier is ek nou, opreg Duits en reg vir die show om te begin. Jy gee dadelik jou game weg om “koffie” te bestel, nog erger ‘n “cappucino”. Jy sing met jou mooiste aksent “café melange” (dis nou koffie met warm melk). As jy baie mooi kyk mag daar ‘n sweempie van ‘n trek in die hoek van die oom se mond wees wat sê “mooi probeer, hou aan oefen”. Die klein ovaal silwerskinkbordjie wat aan nagmaal herhinner kom, kompleet met ‘n doilie, een sakkie suiker en ‘n knertsie water. Baie warm koffie kan jy maar van droom, hy is so dat jy hom dadelik maar moet drink of dis koud. En daai oom sal die skinkbordjie laat staan tot daai water groen word, drink sal jy daai water drink of jy vat nie jou skinkbordjie nie.

Die soetding – van watter nering hy ookal mag wees – is nou die tweede bedryf, sonder ‘n pouse tussenin. Om knapvars te bly het elke stuk koek ‘n lagie dun deurskynende plastiek om die gesnyde deel. (Laat my toe om gou ‘n ander draai te loop – dit is al vertel in ‘n vorige blog… So kom daar ‘n Drive-In op Riversdal. My Ma en Pa was altyd mal oor flieks, so ons trek gereeld met die El Camino bakkie Drive-In toe. Grease was seker een van my hoogtepunte. Ek en Antonette maak piekniek agter in die bakkie, baklei heelpad soontoe en terug. Af en toe maak my Ma die skuifvenstertjie oop en gee ons een moerse oorveeg – mog het troffe – een kry ten minste ‘n hou. Dis vir vyf minute skietstilstand tot sy (Antonette) my weer begin terg. Een aand gaan ons met die kar – een of ander stasiewa op daardie stadium. Tannie Ems en oom Crous gaan saam. Een van die hoogtepunte van Drive-In is dat met die interval kan ons iets koop by die kafeteria. Die betrokke aan is dit hotdogs. Onthou, ons praat nou so van rondom 1976. Die fliek begin na interval en almal is stil aan’t eet. Na die tyd vra my Ma vir tannie Ems hoe was haar hotdog. “Nee jirre Ann dit was die taaiste ding wat ek in my lewe nog ge-eet het”. Nou ja, in daai jaar het “cling wrap” vir die eerste keer sy verskyning in Suid Afrika gemaak, en het tannie Ems die hotdog met clingwrap en al opge-eet, min wetende van die nuutste uitvindsel. Ons het vir jare daarna nog lekker saam met haar gelag oor dié aand.)

Terug in Wene sien ek natuurlik nie die stukkie deurskynende plastiek nie – mens se oë is mos ook nie meer wat dit was nie. En daar is ‘n lepel en ‘n vurk, wat my altyd effe op my senuwees maak, want watter een gaan in watter hand. Mos nie so groot geword nie. Met die eerste vurksny om ‘n klein stukkie koek op te tel kletter die hele ding uitmekaar soos die plastiek die koek uitmekaar laat spat. Ai, ek kyk om my rond om te sien wie het nou almal gesien, maar sjoe die mense is beleefd. Niemand roer ‘n wenkbrou nie. Les geleer. Maar nou sit ek eers en kyk wat maak mens dan nou met die stuk plastiek wat soos ‘n gebruikte (ok ek sal nie sê nie maar julle kan raai) nou iewers gebêre moet word. Daai skinkbordjie is baie klein en so netjies hy hoort seker nie daar nie. Op die kant van die koekbordjie seer sekerlik nie wat dis so mooi versier met versiersuiker. Ek probeer rondom my kyk wat die ander mense doen, maar wragtag ek sien nie een stukkie plastiek nie. Had ek nou ‘n handsak gehad het ek hom daarin weggesteek in ‘n tissue, maar nee, het nie een nie. Ek dog toe nou maar te hel met hulle, hy moet nou maar daar lê en kyk vir my as bewys van my onkunde. Ek sal iewers gaan oplees of vir ChatGpt vra wat ordentlike mense met daai stukkie plastiek doen.

Nou ja, almal weet dat ek nou nie regtig oor die kop geslaan is met Kersfees nie. Baie gemengde gevoelens oor dié tyd van die jaar, wat ek nie hier op sal uitbrei nie. Maar mense, Wenen kan enige Christmas Grinch soos ek bekeer. Daar is nie ‘n park of ‘n plein wat nie op getooi is nie of waar daar nie ‘n krismismark pronk nie. Geen normale mens behoort buite te wees in hierdie bittere koue nie, maar nee, hulle is gepelsjas en pufferjacket, musse en handskoene en stewels om niks te mis nie. Duisende, letterlik, mense maal buite rond in 2 grade. Dit stamp en stoot om by stalletjies uit te kom wat Glühwein verkoop wat op ‘n wonderbaarlike manier van binne af warm maak. In mooi rooi bekers waarvoor jy ‘n deposito betaal kom hierdie wonderwarmwyn met boheemse geure van lemoen, anys en kaneel. Dit is genoeg om my die sestien tramstoppe te laat ry net agter daai lekkerte aan. Een beker is genoeg en laat ‘n warmte soos ‘n mens se Ouma se kombuis in jou binneste.

Dis nou ‘n ritueel – spring op die tram om te gaan Glühwein. En ek is een van daai mense, as ek iets kry waarvan ek hou, hou ek daarby. Moenie my probeer ompraat om iets anders te probeer nie, ek weet waarvan ek hou en ek hou daarby. Maar een aand so ‘n week gelede besluit ek om iets anders te probeer. Kyk, daar gaan die hemelpoorte oop en die engele sing met basuingeskal – Suurlemoen en Lemoen Pons (Punsch). Dis ‘n wit konkoksie, selfde speserye, minder soet maar nog steeds soet genoeg om nie na MedLemon te proe nie. (Daar was ‘n oomblik….) Toé besef ek – jy gaan al die ander moet probeer. Bessiepons, Appel en Jenewer slaan my asem weg. Bo op in die beker dryf ‘n gedroogde appelring wat in jenewer geweek was. Sponssag, warm drink ek rondom die appelskyf tot die beker leeg is. Vis toe die appelskyf onder uit die beker en dink nou kan ek maar opstyf na die hemel. Daar bly min dinge oor op hierdie aarde wat ek nog wil ervaar na hierdie appelring…