|
Camden en Kew
London, United Kingdom |
London, United Kingdom
London het my nog altyd aan ‘n ou “courtesan” – een soos Violetta van La Traviata. Nie ‘n prostituut nie, eerder ‘n “Dame met kamelias”, met ryk kliente. Effens afgeleef, bietjie galoptering (die irriterende hoesie wat Violetta het en tog sing sy hogere C’s asof daar met haar niks verkeerd is nie. Sy ken van ‘n front voorhou (in London se geval is dit meestal ‘n koue front…). Maar sy is sag, innemend, effens afgeleef, diep plooie van jare se rook, min slaap en baie drank. Nou as London ‘n courtesan is, is Camden Town die binnelies – donker en sweterig, sien maar min die lig, en daar is puisies. (Ok ek sal nie verder borduur nie). Soveel snert wat mense kan verkoop is seker wat die Chinese ekonomie aan die gang hou. Westerlinge is vasgevang in ‘n patologie van snert koop. Ek sien altyd by die kunstefees as die tannies in vervoering vir hulle die hoede koop – en ek weet voor my siel daai hoed gaan nooit weer die sonskyn sien nie. So koop toeriste snert wat op iemand se kaggel beland, en die Chinese ekonomie floreer. Donker stegies met tattoo winkels waar hulle ook gate in die mees ondenkbare plekke in jou lyf skiet. En dan sit hulle goed daarin om die gate oop te hou. En eendag as jy baie oud is hang die lelle want die goed val uit. Neuse en wenkbroue en lippe en ore en voorkoppe pronk met silwer gereedskap wat deur gate skroef. Op prentjies het al ook in die nedergedeeltes gesien hoe dinge pryk met silwerstokkies en klokkies en ringe. Die Camden. Dan is daar kos. Baie Chinese kos (hulle produseer nie net plastiek nie). Van die kere wat ek wel al daarvan ge-eet het het ek altyd gewonder of ek nie in die donker gaan gloei na die oordosis MSG nie. Die kleure van die kos hou seer sekerlik direk verband met die hoeveelheid chemikaliee – want geen natuurlike kos kan ooit so oranje wees nie… Maar, dit is heerlik! Vir iemand soos ek wat vrek oor gemorskos is dit ‘n paradys. Soetsuur hoender (ek glo en bid dit is hoender) wat taai is van soet met suur pynappelstukke wat sekerlik in Suid Afrika gegroei is te oordeel aan hoe suur hulle is! Beef met tamaryn wat nagswart in groot woks le en prut, prawns wat pienk glimmer met crisp grasuie. En tonne rys of noedels te kies en te keur. En – dit is spot goedkoop. Ons dam die vis en tjips stalletjie by. When in Rome.. Hoe op aarde die mense vis so krakend kry wat so stoomsag binne in is, sal net hulle weet. Die skepsel met tjips sit my ore aan – ek kan wragtag later net nie alles opeet nie. Vol olie tot agter my ore, afgesluk met Fanta (dit breek die olierigheid) takel ons die mark. My Ouma het gese van Ant Frieda se winkel op Ouplaas waar ons groot geword het “daar kan jy van ‘n gebruikte FL tot ‘n dooie poliesman koop”. Nou ja – watter nut enige van daardie twee artikels sou he sal ek nie weet nie. Maar dat in Camden se mark ‘n verskeidenheid is, is nie te redeneer oor nie. Ons val vas by die “vintage” klere, manelpakke en kilts, keile, pelsjasse wat ‘n woud vol wild sou wees. Tweed baadjies en fluweel, hoede en handskoene. ‘N Fees van stories. Die vol lengte leer jas wat my oog steel is vol karakter – tot ek hoor dit kom uit die Tweede Wereldoorlog. Skielik is die sin vir ou klere uit my gemoed. Ons stap aan. London kreun onder toeriste. En selfiestokkie. Doodmoeg kom val ons in die woonstel neer – hygend die vier stelle trappe op. Mens maar vakansie is uitputtend. Ons dag begin vanoggend by Kew Gardens. Die tuine is begin in 1840 en het die wereld se grootste versameling plante met 30 000 spesies. Van Bokbaai vygies tot eksotiese orgidiee – die wereld in een tuin. Danksy die onophoudelike reen is dit ‘n palet van wellustige groene wat geen kunstenaar kon uitdink nie. Die saligheid van soveel kleure en verskeidenheid van soveel plante trek mens dieper in die wonder van menswees in. En dan is daar die byekorf, ‘n metaal installasie wat ‘n byekorf repliseer. Gebou soos die struktuur van ‘n heuningkoek is dit gekoppel aan werklike byekorf in een van die privaat dele van die tuin. Honderde liggies weerspieel die aktiwiteit van die bye in die werklike korf – hoe meer die bye by, hoe helderder brand die liggies. Die zoem van die bye (en die lekker truksvye – NEE) word gedupliseer in klassieke musiek. Hoe meer die bye in die korf kommunikeer met klank, hoe harder die musiek. (Die musiek word in C majeur gespeel, wat ook die vibrasie van die bye is). Nou ja die wat wonder oor die wonder van lewe, gaan Kew toe. Gaan staan stil voor die wonder van hierdie ding wat ons Lewe noem, gaan kyk hoe klein jy is, hoe min jy weet, en hoe die mensdom eintlik ‘n niksnut is in die groter wonder van die natuur.