Skotland
London, United Kingdom

London, United Kingdom


Die vakansie breek sonder seremonie aan, daar was nog nie eens tyd om opgewonde te raak nie. Tussen die laaste boodskappe vir huis oppassers en kuiermense uitsorteer en vir Katriena instruksies los (onder andere dat sy asseblef ne moet kraam terwyl ons weg is nie), gou die baard laat tem, kantoor toe gaan om laaste detail te druk en groet is ons op die lughawe en is dit tyd om aan boord te gaan. Air Ethiopia – en al die nodige voorbehoude teenoor ‘n lugredery van ‘n Afrikaland skop in. “Die vlug gaan seker laat wees”. “Ek wonder of daar entertainment aan boord is”. Mooi mense met olyfvelle, amandel oe en sensuele lippe bedien bedees kos en drankies. Daar is meer beenspasie as gewoonlik – en alles moontlike toekomstige tekortkominge is by voorbaat vergewe. Twaalf ure op ‘n vliegtuig sonder beenspasie kan vergelyk word met ‘n nagmaalpreek op Heidelberg in kinderjare. Sit van boud tot boud, tel al die orrelpype, probeer om nie nog ‘n keer in jou neus te krap nie. Die bekramptheid van sit met jou kniee langs jou ore, ‘n onderbroek wat in die sag van jou binneboud invreet, droee lug wat jou neusgate laat toeslaan, jou ore geblok en bure wat poep en nies en proes. En die trollie wat net nie by jou uitkom nie. Want iemand moet ‘n spesiale ete kry en soek nog iets wat natuurlik nie op die trollie is nie. Die ure sleepvoet verby, onderbreek deur ‘n vliegtuigete. ‘n Stereotipe vliegtuigete. Vis, met ‘n kerrierige sousie wat reeds gestol het. Met rys en brokkoli. Genadiglik kruip daar die altyd welkome kasie en beskuitjies weg onder die foeliebakkie met die grillerige vis. (Ek kan nie help om te wonder wanneer die vis gaargemaak is nie..). Afgesluk met rooiwyn is die kasie en beskuitjies ‘n noenmaal. (Ek hou daarvan om die hele kasie, wat altyd redelik dik is, tussen twee beskuitjies te sit en dan so te hap dat die beskuitjies verkrummel tussen die sagte kaas. Nie baie gesofistikeerd nie, maar dis my vliegtuig partytrick). Nie lees of musiek of die sogenaamde “inflight entertainment” kry dit reg om my aandag vir langer as ‘n halfuur te hou nie. Ek haat lang vlugte.


Leave a comment