|
National Portrait Gallery
London, United Kingdom |
London, United Kingdom
London is nat en grou. Hoog somer. Mens kan maar net wonder of die Engelse nie regtig ‘n kompleks het oor hulle weerpatroon nie. (En na Brexit is ek seker dit sou nie hulle enigste kompleks wees nie). Ek verstrengel my in die koerante – en voel weereens die verlies aan goeie joernalistiek in Suid Afrika. Hier gee die koerant ‘n wye spektrum van opinies – na bladsy tien kry mens die idee dat jy wel ‘n beter verstaan en opinie van die hele debakel kan vorm. Dit was duidelik nie die geval met die gepeupel nie – die hoeveelheid onkunde en emosie waarmee gestem is hou direk verband met totale onkunde (of dalk onvermoe) om die situasie ten volle te verstaan. Die ondertoon van rassisme en xenofobia is niks nuuts op hierdie eiland nie… Maar ja, geskiedenis herhaal en herhaal. Ons leer nie. En tog het niks in London verander nie. Kensington Tuine is groen, met hordes kindertjies wat leer sokker speel, bederfde vetgevoerde honde (wat dikwels net soos hulle eienaars lyk), drawwers met deurskynende wit bene en tekkies wat te groot lyk vir hulle voete. En nog honde en nog drawwers. Bedelaars en Gypsies en Straatmense. En duiwe. Veral baie duiwe. In Soho loop ons vas in ‘n skare Pride ondersteuners. Die reenboog beslis die beste weerspieeling van hierdie bont klomp. Dit dans en drink en mors. Maar nou ja – elke vuilgoed drom loop oor so daar is seker nie veel van ‘n keuse nie. Na sewe jaar by Africa Burn is ek hiper bewus van MOOP (matter out of place) en kan ek nie help wonder wat deur mens se kop gaan as jy nolenswolens (weet of dit ‘n woord is nie, maar het dit jare gelede by Retseh la Grange geleer) ‘n bottel of blik of papier of plastieksak op die grond neergooi. Dalk is dit juis ‘n teken dat daar nie veel deur jou kop kan gaan nie… Gay Pride gaan my verby. So hard as wat ek probeer verstaan hoekom mense dit nodig ag om te paradeer in stilettos met bikinis en lang kleurvolle wimpers, so min verstaan ek dit regtig. Almal weet van ons. Die Vader weet ons gaan genoeg tekere dat niemand ons kan miskyk nie. En ja ons het nou gekry wat die straight mense het. Meestal. Kan ons nie nou maar ophou om ‘n bleddie spektakel van onsself te maak nie? Asseblief? ‘N Kuier by ou Kaapse vriende is soos om daardie trui (die een wat jou lewensmaat baie diep agter in die linnekas weggesteek het) wat jou Ma dertig jaar terug gebrei het weer te ontdek. Die snoesigheid van onthou en ontdek wat lankal van vergeet is. En lag oor die tyd wat so verby gegaan het en ons eintlik nie ‘n dag ouer voel nie. Van sit en kuier op die kombuisvloer en ‘n geborgenheid voel van bekendheid. Die Sondag middagete rek lank uit oor ‘n baie spesiale quiche en slaai en stroopsoet bessies met meringue en roomys. En natuurlik wyn en koffie en nog lag en kuier. Dit is wel ‘n cliche, maar daar is vriende met wie mens jare nie kontak het nie (amper twintig jaar) en oombliklik weer optel waar jy laas gelos het. Vanoggend reen dit ‘n regte Kaapse winterreen in London. Dis nou sesuur met die wakkerword omdat dit so oneindig vroeg lig is (en laat donker word). Vandag is dit die National Portrait Gallery – die een plek wat ek nooit mag mis in London nie. Die BP 2016 uitstalling is soos altyd ‘n reis na diep emosie, vasgevang in bo-menslike kuns, detail wat hoendervleis en spatare en plooie en sproete nie ontsien nie. Patos vermeng in kleur op doek, geskilder met insig dieper as wat die sitter self kon verwoord. Ons eie Shany van den Berg uit die Paarl pronk hier in ‘n selfportret – ‘n blik deur ronde brilglase wat deur jou kyk. Die gallery se kommentaar is “Peering at us into the light, out of the dark, there’s a really strong use of chiaroscuro. I wouldn’t mess with this woman”. Die kontras tussen lig en skadu (chiaroscuro) bring die karakter van een van ons land se voorste kunstenaars hier in London na vore. ‘N Vrou met wie jy nie moet mors nie. Maar meer dan dit, ‘n vrou wat nie een duit hoef terug te staan vir die beste in die kunswereld nie. Trots Suid Afrikaans staan ek lank stil, buig my hoof in ootmoed voor hierdie formidabele werk. Die werk wat my in my spore stop en letterlik in ‘n sekonde weemoedig maak, is die van Bo Wang. Die kind is in 1981 gebore, en skilder sy Ouma in haar sterwens hospitaalbed. Bo erken dat hy soms ‘n moeilike verhouding met sy Ouma gehad het. Hier, sterwend en nie meer langer in staat om te praat nie, van hy haar lewe vas met soveel deernis dat sy nie ‘n woord hoef te praat nie. Die kleinkind skilder elkeen van ons se Ouma – plaaskuiers en beskuit en kaneelpannekoek en moerkoffie. Al sy Ouma uit die Ooste, is sy die Oerouma wat elke kleinkind se kindwees verteenwoordig. Sagtheid en verstaan en warmte. Selfs in haar sterwensuur. En die kind is 35 jaar oud. En weer het ek hoop vir die mensdom en weet ek dat ons hier is om een rede, en een rede alleen. Ons moet hierdie wereld ‘n beter plek maak, want daar is soveel talent en mooi en deernis en goedheid wat in hierdie vertrek saamgevat is dat daar ‘n dieper rede vir hierwees moet wees. Sela.