<![CDATA[
|
Goodbye Melbourne
Tullamarine, Australia |
Tullamarine, Australia
Sommige mense help ons dra aan ons stories. My vriendin van dertig jaar is een van daardie mense in my lewe. In hulle huis in Melbourne sit ons aan die kombuistafel in ons pajamas, soos van ouds in die Paarl se pastorie of die skakelhuis in Dorpstraat Stellenbosch. Of Tamboerskloof. Waar ook al – Kobie help my onthou wie ek is en was en waar ek vandaan kom en hoe die plooie dieper is as wat ek onthou. Ons Volkswagen beetles, die liefdes wat ons laat wroeg het met Old Brown Sherry. Ek is deel van Kobie se gesin, hier ver van ons Moederland. Ons eet hoenderpastei en soetpatats met te veel rooiwyn. Kobie gee onwetend ‘n geborgenheid deur herinneringe, oomblikke, gedagtes en gebeure wat ek lankal diep vergeet het. Ons lag vir ons weemoed en storm en drang. Skielik duik gesigte weer op, is oomblikke helder en seerkry onthou. Is ons weer studente sorgeloos besig met ons seerkry, glo dat dit die einde van ons wereld is. Dertig jaar later loop ons mekaar weer raak in ons stories, sien ons dat so baie verander het, en eintlik het niks verander nie. Nou is daar drie beeldskone kinders, ‘n gryser man, twee stofsuiers, ‘n strykyster en strykplank, wasmasjien en tuimeldroeer. Die ketel is stukkend maar die kastrolletjie werk beter. Die rooiwyn duurder die koffie sterker. Die rekenaar. En weet ons, niks het verander nie. Ons is nog 18. Ons weier om groot te word. En my rugsak voel loodswaar toe ek hom op my rug swaai by die lughawe. Dankie Kobie dat jy my stories help dra, dat ek van hulle kon inpak vir hierdie reis, dat ek nuwes kon kry wat ek in jou linnekas bere tot volgende keer. Al die klein stukkies legkaart is nou op hulle plek. Dis ‘n mooi prentjie.
]]>